Close

Studente

Die studente wat help om Boekejol 2017 moontlik te maak

Andrea Erasmus
Andrea Erasmus

Aangenaam, ek is Andrea Erasmus, ‘n twintigjarige, Afrikaanse student, wat in 2015 aan Hoërskool Hartbeespoort gematrikuleer het. 

Ek is ook ‘n tweedejaar Elite-beurs student wat Bcom Ondernemingsbestuur aan Akademia, Centurion kampus studeer.  

Ek lees graag fiksie en stel baie in geskiedenis belang.  Ek het ‘n oog vir spelling en grammatika.  Ek is doelwit gedrewe en hou daarvan om met mense te werk.  

Loopbaan-gewys wil ek graag in die veld van Projekbestuur inbeweeg.  

Tradisie speel ‘n groot rol in my lewe en my familie is vir my baie belangrik.  

Andrea is ‘n Akademia student en sal by City Lodge help.

Darcia Bensch
Darcia Bensch

Ek is ‘n Elite-beurs student, wat Bcom Ondernemingsbestuur by Akademia se Centurion-kampus studeer. Ek is tans in my tweede jaar. 

Ek is oorspronklik van Mosselbaai, waar ek in 2015 aan Curro Mosselbaai gematrikuleer het, maar het na Centurion verhuis vir my studies.

Ek gee baie om vir my mede-mens en werk goed met mense. Ek stel baie in besigheid en die innerlike werking van besigheid asook die mense binne die besigheid belang en wil graag my nagraadse studie in Inligtingstegnologie doen.

Ek hou baie van musiek. Musiek inspireer my en daarom speel ek graag klavier in my vrye tyd.

Darcia is ‘n Akademia student en sal by Citadel in die Kaaimansgebou behulpsaam wees

Dineo Ditibane
Dineo Ditibane

My naam is Dineo Olga Ditibane, van Pretoria. Ek is 20 jaar oud en ‘n 1ste jaar student by Unisa. 

Ek wil graag my eie toeragentskap begin na ek my graad ontvang het. My doel met die agentskap is om te help bou aan die ekonomie en ook om werksgeleenthede te gee an mense met dieselfde passie vir toerisme as ek. 

Ek het ‘n passie vir dans en daarom sal ek graag eendag my eie dans-studio besit sodat ek verskillende dansstyle kan aanbied vir mense van alle ouderdomme. 

Ek dans, oefen, sing en lees graag boek in my vryetyd. Ek is ook iemand wat avontuurlustig is, hou van die natuur en graag tyd saam met familie en vriende deurbring.

Dineo (Olga) is ‘n Atterbury-beurs student wat by WoordWysheid is om alles glad te laat verloop

Sonet Mare
Sonet Maré

Ek het in 2015 gematrikuleer aan die Hoërskool Erasmus in Bronkhorstspruit, waar ek grootgeword het. 

Ek is besig met ‘n BSc graad in Wiskundige Statistiek deur die Universiteit van Suid-Afrika, en is in my tweede jaar. In my vrye tyd rig ek gimnastiek af. Ek het nog altyd ‘n liefde vir lees gehad en spandeer graag ‘n hele dag met boeke. 

My beplanning is om, nadat ek my graad voltooi het, ‘n Honneurs in Statistiek te voltooi, asook die nodige eksamens om as ‘n Aktuaris te kwalifiseer. My passie vir syfers kom al van kleityd af en ek het nog altyd geweet ek wil eendag ‘n loopbaan in Wiskunde volg.

Sonet is ‘n Atterbury-beurs student wat by WoordWysheid sal toesien dat die woorde vloei

Chimone Kapp
Chimone Kapp

Ek is Chimone Kapp – ‘n besigheidstudent deur die wêreld gefassineer.

Ek is passievol oor die interseksie van lande, daarom strewe ek ‘n loopbaan in internasionale sake na.

Die wêreld is ‘n klein plek en my doel is om dit nog kleiner te maak, deur verskeie gapings oor lande in die sake-sin te oorbrug. Oprah het eenkeer iets gesê wat by my vasgesteek het: ‘As jy beter weet, kan jy beter doen.’ Dit is my filosofie in die lewe. Ek wil verandering in gebiede voortbring wat dit die meeste benodig en ek beplan om dit te doen deur middel van onderrig.

So, in ‘n neutedop, is ek ‘n reis-lus jong dame met groot drome van ‘n wêreldwye loopbaan en om intussen ‘n verskil te maak. Dis ek – Chimone Kapp.

Chimone is ‘n Akademia student en sal in die Citadel VC-kamer toesien dat alles goed verloop

Jean-Pierre (JP) Erasmus
Jean-Pierre Erasmus

Dagsê, my naam is Jean-Pierre Erasmus. 

Ek is ʼn analis wat fokus op die kleiner besonderhede. Ek kyk na n probleem as  ʼn geheel, breek dit in kleiner dele op, los dan die verskillende  komponente op en sit dan alles weer as ʼn geheel bymekaar. 

Ek studeer tans BCom ondernemingsbestuur by Akademia (Die mees dinamiese en innoverende Afrikaanse Universiteit wat bestaan). 

Ek kom van ʼn klein kusdorpie in die Wes-Kaap met die naam Stilbaai, ʼn plek mooi genoeg om enigiemand se hart te steel. In my spaar tyd geniet ek ʼn rowwe 4×4, tyd langs die viswaters en ʼn ontdekkingsreis saam met my familie en vriende. 

Ek beoog om in 2018 graad te vang waarna my kompas in die rigting van aptekerswese en ʼn reis regoor die wêreld wys.

Jean-Pierre (JP) is ‘n Akademia student en is by Atterbury Teater behulpsaam

Rohan Pieterse
Rohan Pieterse

Ek is ‘n selfstandige, sukses-gedrewe, gemotiveerde persoon wat van die Kaap af kom. Meer spesifiek, Wellington. 

Tans is ek besig om Bcom Ondernemingsbestuur te studeer by Akademia (Centurion). 

Ek is nou in my tweede jaar en sien uit om die res van my lewe in te vaar met al sy geleenthede, uitdagings en avonture sodra ek klaar is. Die finansiële markte, en motorfietse, is wat my aandag trek, en nog belangriker my aandag behou. My toekoms het ek reeds vooruit beplan, stap vir stap, met die hoop om my eie besigheid/besighede binnekort te vestig. Hierdie doelwitte sal bereik word.

Ek is sterk oppad.

Rohan is ‘n Akademia student wat by Alkantrant Biblioteek sal help dat Boekejol 2017 glad verloop